On reconciliation - Nico Koopman and Oodgeroo Noonuccal
My colleague Prof Nico Norman Koopman's column on reconciliation in today's Burger newspaper reminded me of this piece of poetry:
I could tell you of heartbreak, hatred blind, I could tell you of crimes that shame mankind, Of brutal wrong and deeds malign, Of rape and murder, son of mine; But I’ll tell instead of brave and fine When lives of black and white entwine And men in brotherhood combine— This I would tell you, son of mine.
A prophet of hope in our time!
Here is Nico's column from Die Burger for 16 December 2014:
Steeds op soek na helende versoening
Die 1996-Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika pleit vir die heling van die wonde van die nasie. Op Versoeningsdag fokus ons uitdruklik op hierdie helingsproses.
Drie interaksies bied riglyne vir hierdie proses. Gedurende die negentigerjare is ek en Vader Courtney Sampson van die Anglikaase Kerk kapelane op die kampusse van die Universiteit Wes-Kaapland, en die destydse Skiereilandse Technikon en Bellville Onderwyskollega. Courtney verduidelik op ‘n keer aan my dat sy bediening gedurende die verloop van ‘n jaar die moeite werd was as hy een bruin en een swart student kon help om vriende te word, en as hulle buite klasverband sosiaal met mekaar kan verkeer!
Sampson het toe al besef studente en personeellede kan saamwerk oor kleurgrense heen, maar hulle ervaar kleurgebaseerde skeiding buite die amptelike studeer- en werksituasie.
In een van my heel laaste gesprekke enkele weke voor sy dood met prof Russel Botman praat ons oor die wyse waarop sosio-ekonomiese klowe wat meermale langs kleurlyne loop, dit moeilik maak vir baie van ons studente om buite die klas-situasie oor kleurgrense vriende te word en blywende verhoudinge te bou.
By die onlangse gradeplegtighede van die Universiteit Stellenbosch pleit ons kanselier, dr Johann Rupert, telkens vir, wat ek wil noem, die heling van ons land se mense. Hy is besorgd oor die stukkendheid wat die geweldsoptrede van die apartheidsmagte, onder meer die moordbendes, in Suid-Afrika gebring het. Hy verwys ook na die stukkendheid wat die geweldsoptrede van sommige elemente in die anti-apartheidsbeweging meegebring het, onder meer deur middel van halssnoermoorde.
Hierdie geërfde geweldskultuur dra by tot ons afgestomptheid vir die wreedheid en verontmensliking in ons samelewing. Verlede week se moord van ses jongmense in Kraaifontein kry byvoorbeeld nie die prominensie en ontlok nie die skok wat dit verdien nie. Hy is ook besorgd oor talle mense wat sosio-ekonomies stukkend is.
Rupert daag gegradueerdes en akademici uit om meer aktivisties te wees, om meer daadwerklik op te tree, om meer te praat teen alles wat stukkendheid meebring, en om meer te soek na heling en menswaardigheid vir almal.
Sampson leer ons helende versoening beteken dat mense oor grense heen vriende word. Botman pleit vir die oorkoming van sosio-ekonomiese ongelykheid as ‘n weg na helende versoening. En Rupert pleit vir aktivistiese individue en instellings om helende versoening, menslikheid en vrede te bevorder.
Versoeningsdag kan ons dalk help om opnuut te ontdek dat die aktiewe optrede van elke individu uiteindelik ‘n groot verskil maak. Om weer die woorde van ‘n ou gesang in herinnering te roep: Kleine druppels water, kleine korrels sand, vorm die oseane, bou die vasteland. Vriendskappe soos dié van Courtney Sampson se studente los nie alle probleme op nie, maar dit bied hoop vir die oorkoming van stukkendheid en sosio-ekonomiese klowe, onmenslikheid en geweld.
Nico Koopman is dekaan van die fakulteit teologie, Universiteit Stellenbosch